Facebook-Groep Etiket: 9 Beginsels om in jou gunsteling groepe toe te pas

Sosiale media het die wêreld en die manier waarop ons met mekaar kommunikeer heeltemal verander.
Alhoewel daar negatiewe aspekte verbonde aan sosiale media is, is daar ook talle voordele wat aan die gebruik van sosiale media gekoppel kan word.

Een so ‘n voordeel is die gebruik van Facebook-groepe. Dit stel jou in staat om met verskillende mense regoor die land – en selfs die wêreld – te kommunikeer oor spesifieke onderwerpe. Facebook-groepe verenig mense met soortgelyke belangstellings wat van troeteldierversorging tot naaldwerk, huisonderhoud en modegiere strek.

Hierdie artikel lys 9 belangrike beginsels om toe te pas wanneer jy deel van enige Facebook-groep is, om te verseker dat jy ten alle tye positief bydra tot die voortbestaan van die groep.

1. Moenie ‘n plasing maak binne die eerste week nie
Wanneer jy by ‘n nuwe groep aansluit, weerstaan die impuls om onmiddellik te begin om plasings op die groep te maak.
Dit mag dalk teenproduktief klink, maar dit is belangrik om die eerste week of twee te gebruik om net te kyk hoe dinge in hierdie spesifieke groep gedoen word voor jy inspring.
Wenk: Onthou om steeds ‘n paar plasings te “Like” sodat die groep nie heeltemal uit jou tydlyn verdwyn omdat jy nie aktief betrokke is nie.

2. Respekteer (en ken) die reëls
Elke Facebook-groep het sy eie stel reëls. Sommige groepe gebruik die standaard stel reëls wat Facebook by verstek saamstel wanneer ‘n nuwe groep geskep word; ander formuleer hul eie reëls gebaseer op die doel en dinamika van die groep.
Net soos jy nie die huisreëls van iemand anders sal breek nie, so ook moet jy seker maak om nie die reëls van die groep te breek nie.
Wenk: Daar is soveel verskillende Facebook-groepe om van deel te wees, so dis maklik om ‘n groep te verlaat as jy voel dat jy nie met die reëls kan saamleef nie.

3. Asseblief en dankie tel
Wanneer jy ‘n vraag vra en groeplede spandeer tyd en moeite om jou vraag te beantwoord, erken dat jy die antwoorde ontvang, gelees en waardeer het.
Wenk: ‘n Eenvoudige “Like” vir elke boodskap is voldoende. Wanneer daar baie kommentare op jou plasing is, tik ‘n boodskap om sommer vir almal op een slag dankie te sê.

4. Respekteer die Admins – hulle word nie betaal nie
Tot en met Facebook besluit om ‘n fooi te hef om aan ‘n groep te behoort, moet jy in gedagte hou dat die Admins van die groep die diens heeltemal vrywilliglik en gratis aanbied.
En ja, om ‘n Facebook-groep aan die gang te hou is ‘n diens: die Admins offer gewoonlik ure en ure van hul persoonlike tyd op om die groep te bestuur en om te verseker dat alles glad verloop.
Wenk: Moenie jou boodskappe en versoeke na ‘n Admin se persoonlike profiel stuur nie. Lees die reëls en as dit nie gespesifiseer word nie, vra eers toestemming op die groep voor jy ‘n Admin privaat kontak.

5. Moenie op iemand ander se plasing teer nie
Moenie jou vraag in die kommentare van iemand ander se plasing vra nie. Nie net ontneem jy die persoon wat die oorspronklike vraag gevra het van die geleentheid om antwoorde op hul vraag te ontvang nie, jy ontneem ook jouself van die geleentheid om die korrekte inligting – spesifiek tot jou vraag – te ontvang.
Wenk: Wanneer jy ‘n vraag het, skep jou eie plasing om jou eie antwoord te ontvang.

6. Basiese maniere
Net omdat jy op sosiale media is beteken dit nie dat basiese goeie maniere en aanvaarbare sosiale gedrag nie van toepassing is nie.
Wees bedag en respekteer ander lede se gevoelens en opinies.
Wenk: Voor jy iets tik, vra jouself af of jy daardie selfde kommentaar sou gelewer het as jy en die betrokke persoon/persone van aangesig tot aangesig in gesprek was.

7. Hou by die onderwerp
Wanneer jy aan ‘n groep oor vermiste diere behoort, hou jou vrae verwant aan diere. ‘n Vraag soos, “Hoe kan ek die lem van my skeermes vervang?” sal nie so lekker in hierdie groep werk nie.
Wenk: Maak seker dat jy die regte vraag in die regte groep plaas.

8. Moenie jou soortgelyke groepe adverteer nie
Soos reeds genoem, werk die Admins van Facebook-groepe baie hard om ledetalle te bou, plasings en kommentare te monitor, advertensies en “spam” van die groepe af te hou, swendelaars te verwyder en om die inhoud van die groep so hulpvaardig as moontlik te hou.
Moenie ander soortgelyke groepe adverteer of lede uitnooi om aan jou persoonlike of ander groepe te behoort nie.
Wenk: As jy passievol oor ‘n groep is, nooi die vriende op jou persoonlike profiel uit om aan jou gunsteling groepe te behoort.

9. Geniet die voorreg
Onthou dat dit ‘n voorreg – nie ‘n reg – is om aan ‘n Facebook-groep te behoort. Die Admins is niks aan die groeplede verskuldig nie. Groeplede is niks aan mekaar verskuldig nie.
Almal neem vrywilliglik deel en offer hul persoonlike tyd en energie op om tot die groep by te dra.
Wenk: Moenie ongeduldig word wanneer jou plasing nie gou genoeg goedgekeur word nie, of omdat jy nie die antwoorde kry wat jy graag wou hoor nie.

Daar is meer as 10 miljoen groepe op Facebook. Elke Facebook-gebruiker word toegelaat om deel te wees van ‘n maksimum van 6 000 groepe.

Dit is dus jou persoonlike en vrye keuse aan watter groepe jy wil deel wees.

As jy wel besluit om ‘n groep te verlaat, doen jouself ‘n guns en moenie ‘n groot bohaai opskop nie. Facebook is nie ‘n lughawe nie en jy hoef nie jou vertrek aan te kondig nie.

(En as jy wel wil terugkeer, kan jy enige tyd in die toekoms weer deel wees van die groep sonder dat enige iemand weet!)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *