Suksesverhaal: Knysna Ma Herontdek Haarself

Janice Muller, 43-jarige ma van Knysna in die Wes-Kaap, het in Januarie 2017 met Die 28 Dae Eetplan begin op ‘n gewig van 80kg. Vandag wissel haar gewig tussen 69-70kg.

Janice is ‘n bedrywige mamma met 3 sportiewe kinders. Haar kinders en haar familie motiveer en ondersteun haar, en het saam met haar hierdie reis deurgemaak.
Na 3 keisersnitte met haar kinders – twee dogters en ‘n seun: Candice, 15jr; Donay, 13jr en Darren – het sy op 15 Julie 2016 besluit genoeg is genoeg.
Sy het sedertdien al vele rondtes agter die rug en klim gereeld op en af van die bus.

Ondervinding op die plan

Elke maand probeer sy om ‘n nuwe rondte te begin sodat sy weet dat een maand gelyk is aan ‘n rondte. Dit maak dit ook makliker vir haar om te onthou op watter dag sy is, byvoorbeeld as dit die 18de dag van die maand is dan weet sy sy is op dag 18.
Sy hou die eetplan altyd byderhand, aan haar sleutelring en op haar selfoon.
Met weeg dae het Janice altyd uitgesien om te weeg op ‘n Donderdag. Sy het haar gewig, lengte en BMI dopgehou en dit was lekker; want sy het geweet dat dit wat sy ingesit het in die week op die skaal sou wys.

Sy was vinnig besig om die vetjies te verbrand en dit was opwindend om haar vordering te sien.

Motivering

Haar voor en na foto’s het haar gemotiveer, want sy was verleë oor hoe sy voorheen gelyk het, maar vandag moedig dit haar aan omdat sy nie weer wil terugkeer na hoe sy eens gelyk het nie.
Op die dae wanneer sy wou moed opgee het sy altyd onthou dat haar kinders haar dophou en dat sy vir hulle hierdie voorbeeld stel.
Hulle sal gereeld vra, “Gaan mammie aandete eet?”, want hulle weet haar porsies is kleiner en haar bakkie vol.
Hulle vra ook gereeld in die winkels waar haar plan is en op watter dag is om haar verder te ondersteun.

“Ek het myself afgeskeep en myself laat gaan deur my nie ‘n prioriteit te maak nie. Ek het geglo dat ek moes aanvaar dit wat ek nie aan myself kon verander nie”, vertel sy.
“Deur my gesonde eetgewoontes en my passie en toewyding om weer goed oor myself te voel, kon ek vir my kinders ‘n voorbeeld stel.”

Haar mond het oorgeloop van dit waarvan haar hart vol was, en haar familie kon dit sien; want iets was besig om ten goede te gebeur deur dit wat sy aangepak het.

“Ek het meer energie gekry, ek kon by die gym aansluit, ek kon by ons plaaslike Parkrun aansluit – en met 129 Parkruns agter die rug, druk ek nou vir my volgende mylpaal in Parkrun 150. Ek druk myself elke keer vir die volgende mylpaal, in fiksheid en die lewe oor die algemeen”, skryf sy.

Die moeilikste deel

Die detoks-fase, die hongerpyne, om die versoekinge te weerstaan en naweke is veral vir haar moeilik omdat sy nie oor naweke werk nie.
Aan die begin was dit moeilik om kos te maak vir die gesin, maar later het dit ‘n gewoonte geraak. Sy kon hul kos voorberei sonder om daaraan te peusel en sonder enige eetlus daarvoor omdat sy uitgesien het na haar porsies en geweet het sy kry resultate daaruit.

“Wat ek in my mond sit het gewys in hoe ek gelyk en gevoel het oor myself. Ek was altyd lief om die oorskiet van hul skoolkosblik te takel na skool”, sê sy.

Dissipline

Sy glo aan die spreekwoord, “Jy is wat jy eet”. Sy het suiker, rys en aartappels heeltemal uitgesny. Sy eet aartappels net op die dae soos wanneer die plan sê, as sy nou regtig vir ‘n maand doelgerig is om die eetplan vir daardie maand te volg.
Sy het suiker en rys soos gif vermy. Deesdae drink sy swart koffie en rooibostee sonder suiker en sonder melk.

Janice kon haar etenstye gemaklik inpas. Sy het ontbyt geëet om 08:00, twee ure nadat sy wakker geword het in die oggende. Haar middag ete was om 13:00 en aandete was 18:00.
“Die 5 ure tussen etes het my gedissiplineer en het ek my klein porsies in ‘n feesmaal omskep. Ek het altyd uitgesien na my kos, en die klein porsies was soos koningskos”, onthou sy.

Advies

“Ja, daar is dae wat jy gaan kroek en skuldig voel, maar jy is wat jy eet. Word gedissiplineerd en wees streng met jouself – dis net jy wat dit vir jouself kan doen. Ander mense sal jou kan ondersteun en moed inpraat, maar JY is die een met die wilskrag.”

Hier is nog advies en raad wat Janice graag met ander wil deel wat hierdie reis wil aanpak:

• Ek kan jou klompe voor en na foto’s van my wys. Ek kan jou klompie motiverende gesegdes wys, maar slegs JY kan hierdie reis van jou aanpak.
• Wees aktief. Jy hoef nie marathons te hardloop nie, maar begin klein. Gaan stap of sluit by jou plaaslike Parkrun aan. Vir elke Parkrun word jou strepieskode geskandeer en jou statistieke vir daardie stap/hardloop kom deur op jou epos. Registreer aanlyn by www.parkrun.co.za/knysna (vervang die woord “Knysna” met jou dorp se naam).
• Kennis is mag. Ek het die 28-dae boekie van voor tot agter gelees en myself daardeur bemagtig. Ek het so baie geleer.
• Drink baie water! Drink baie water! Drink baie water, nogmaals water.
• Druk deur daardie hongerpyne. As jy honger voel drink water.
• Jou maag mag dalk pyn aan die begin as jy iets verkeerd eet, want onthou jou maag gaan krimp.
• Druk deur, hou uit, woed voort, 28 dae is nie so lank nie.
• Wees goed vir jouself en glo in jouself.
• Dit kos wilskrag en die regte ingesteldheid om deur te druk, om resultate te sien.
• Die persoon wat terugkyk in jou spieël is jou grootste kompetisie.
• Laat dit jou geskenk aan jouself wees. Doen dit vir jou!

Dit gaan nie maklik wees nie, maar jy moet jouself afvra, “Hoekom wil ek dit doen? Hoekom wil ek begin?”

Laaste woorde

Janice is vandag ‘n fiksheidsfanatikus en ‘n trotse voorstaander van Die 28 Dae Eetplan.
“Dis als te dankie aan die krag en sterkte wat ek van Bo kry om elke dag te doen wat ek moet doen, ‘n fantastiese eetplan, die inspirerende klompie op die groep, my weeklikse Parkruns, my aktiewe leefstyl en gesonde keuses,” vertel sy.
Danksy Die 28 Dae Eetplan kon sy aan die Parkruns deelneem. Min het sy besef dat Parkrun en Die 28 Dae Eetplan haar voorberei het om al haar marathons te kon hardloop.

In Maart 2019 het sy haar eerste 42km marathon in ‘n tyd van 5 en ‘n half ure klaargemaak en in April 2019 het sy haar eerste 30km in ‘n tyd van 3 ure op die pad voltooi.
Daardeur het sy haar uithouvermoë aan haarself bewys.

In April vanjaar neem sy vir die eerste keer deel van die Two Oceans marathon en sy droom om binne die volgende 5 jaar die Comrades te hardloop.

“Vandag is die eetplan nie meer vir my ‘n dieet nie, maar ‘n gesonde leefstyl wat ek volhou. As daar dae is dat ek voel ek weer vetjies aansit, gaan ek net weer terug na die basiese beginsels van die eetplan”, sluit sy af.

79960827-6d9f-49d5-bbc0-454c56ab89e8
df4f1c60-a06e-4f78-864b-df0f12f99a38

Het jy ‘n suksesstorie om te deel? Ons wil graag van jou hoor.

Deel gerus jou storie hier.

3 Comments

  1. Connie Petersen says:

    Pragtig Janice! Jys waarlik n motivering vir baie van ons en veral vir my, jou LO onderwyser van hoèrskool. Super trots op jou…hou so aan!!

    1. Baie dankie juff Connie, elke dag is maar ñ stryd teen die vette!

  2. Jeanne Hugo says:

    Ek het gister begin met die dieet. Het net 7kg om te verloor…Corona vet.. maar ek gaan deurdruk….

    Ek weet die eerste week gaan sukkel maar ek gaan vasbyt.

    Sterkte vir almal…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *