Vetties na agter?

DieetDagboek is ‘n reeks inskrywings oor die struikelblokke, suksesse en alledaagse ervaringe van persone op hul reis na ‘n gesonde liggaam.

Ek stap vandag in by ‘n bekende klerewinkel vir die eerste keer na ‘n lang tyd. Om oorgewig te wees het my selfbeeld so ‘n knou gegee dat ek nou eerder klere aanlyn koop (by die paar winkels wat my groottes aanhou).

Daardie fluoresserende ligte, brandmaer winkelpoppe en personeel wat met hul oë wonder wat jý in hierdie winkel soek is net te veel vir my.

Wat vandag my oë opgeval het met die intrapslag is die piepklein wit hempie wat heel voor in die winkel uitgestal is. Eers dink ek dit is deel van die kinderreeks – want watter volwasse vrou kan nou daarin pas?

Soos ek verder stap, sien ek ‘n paar soortgelyke hempies in maroen en besef meteens dat dit wel vir volwassenes bedoel is.

Die groter klere is in die agter-linkerkantse hoek wat nie baie goed belig is nie en lyk asof dit deur die personeel as ‘n addisionele stoor- en sorteringsplek gebruik word.

Die hartseer oorval my met ‘n groter besef: hierdie is die boodskap wat in vandag se samelewing versprei en bevorder word. Maer is mooi en moet uitgestal en in die kollig geplaas word. Vet is lelik en moet weggesteek en met verwagte skaamte benader word.

Maar, na verdere nadenke besluit ek meteens dat ek weier om myself teen die wêreld se standaarde te meet. Ek kan nie beheer wat die samelewing beskou as “mooi” of “goed” of “aanvaarbaar” nie, maar ek kan beheer hoe ek oor myself voel en wat vir my belangrik is.

Ek wil gesond wees.

Ek wil aktief wees.

Ek wil genoeg energie hê om agter my kinders aan te hol.

Ek wil nie meer uitasem wees as ek my sokkies aantrek of my toonnaels knip nie.

Ek wil nie op chroniese bloeddruk- of suikermedikasie wees nie.

En as dit beteken dat ek ook uit die voorkant van die winkel kan koop, is dit ‘n absolute bonus – maar hierdie vettie is móég daarvoor om in die skadu’s van die agterkant te leef.

DieetDagboek is ‘n reeks inskrywings oor die struikelblokke, suksesse en alledaagse ervaringe van persone op hul reis na ‘n gesonde liggaam.

Stuur jou inskrywing na [email protected] met “Dieet Dagboek” in die onderwerp reël. Onthou om jou Naam, Van, Dorp en foto’s (opsioneel) in te sluit – of dui gerus aan of jy anoniem wil verskyn.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *