Hierdie pil laat jou winde soos sjokolade ruik

As jy hierdie vakansie baie tyd saam met familie en vriende rondom ‘n kostafel deurbring, sal jy verstaan dat ‘n ontydige windjie jou heelwat in die verleentheid kan stel.

‘n Franse uitvinder het ‘n paar jaar gelede met ‘n plan vorendag gekom om homself en sy vriende hierdie verleentheid te spaar deur ‘n pil te ontwerp wat jou winde minder onaangenaam, en selfs roosgeurig, kan laat ruik.

Hoe dit ontstaan het

Tydens ‘n groot ete met vriende het Christian Poincheval vir homself gesê dat dit meer gepas sou wees om ‘n wind te kan laat sonder om sy gaste te pla. Na baie navorsing met ‘n laboratorium en baie baie toetse het die “Fart Pill” uiteindelik die lig gesien.

Poincheval bemark sy pille onder die naam Pilule Pet – ‘n Franse woordspeling wat basies vertaal word na “poep pil”.
Poincheval het reeds baie toekennings by die Franse uitvinder-ekspo, “Concours Lepine”, gewen; insluitend drukbare toiletpapier om stories te lees as tydverdryf gedurende jou badkamersake.

“Ek wou die skaamte wat jy voel wanneer jy ‘n wind aan tafel uitlaat, verwyder,” verduidelik Poincheval. “Die vrees wat jy voel dat die klankie verder kan reis… Ek wou hierdie kompleks elimineer.”

Hoe dit werk

Dit is toe dat die idee gekom het om ‘n oplossing te vind om die stank te stil en indien moontlik, met gewone kombuiskruie.
Die aanvanklike proewe met kruisement of estrogeen het nie die gewenste resultate gelewer nie, so Poincheval het hom na bestanddele van natuurlike dieetaanvullings gewend. Baie bestanddele is getoets en op die ou end was dit ‘n spesiale mengsel wat verskillende voordele verskaf het wat die gewenste effek gegee het.

Tesame met ’n natuurlike aroma-komponent is die Roos en Violet pil bekendgestel.
Deur die pil elke dag te neem, sonder onderbreking, sal die “Fart Pill” die spysverteringskanaal geleidelik aromatiseer en sodoende stank verlig en dit selfs ‘n blommegeur gee. Die presiese dosis hang af van die individu se toestand, dieetgewoontes en die gewenste effek.

Dit word aanbeveel om 2 tot 6 pille per dag met ‘n glas water versprei tydens maaltye te neem.

Poincheval erken dat die effek van die pille afhang van dosis en individuele diëte, maar hy sê ook dit het ‘n groter, meer maatskaplike doel. “In hul kern lok hulle besprekings, debat uit,” het Poincheval gesê, “en probeer om winde, wat iets heeltemal natuurlik is, te bevry.”

Verskillende geure

In Januarie 2015 is ‘n spesiale Valentynsdag gemmerpil vrygestel, gevolg deur lelie van die vallei vir Meidag in 2019.

Tans (2021) op sy webblad adverteer hy ‘n spesiale Kersfees weergawe wat jou winde soos sjokolade sal laat ruik.

Hoeveel dit kos

Die pille kom in houers van 60 elk, en verkoop vir €18.86 (sowat R330). Hulle is ook nie beperk tot mense nie; hy verkoop ook ‘n verpoeierde weergawe vir honde.

Poincheval en sy sakevennote erken dat hul lighartige bemarkingsveldtog dit moeilik maak vir mense om die produk ernstig op te neem, maar dit is ook deel van die strategie.

Wel, dis nou vir jou ‘n stinkstorie.
Deel gerus jou kommentaar onder!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *