HELP! Ek’s Honger: 10 Maniere om hongerte te oorkom gedurende die eerste week

Wanneer ‘n mens ‘n nuwe eetprogram begin het jou liggaam tyd nodig om by die nuwe eetgewoontes aan te pas.

Wanneer jou doel is om gewig te verloor, moet jy ‘n kalorie-tekort skep. Dit beteken dat jy minder kalorieë inneem as waaraan jy gewoond is, om sodoende die liggaam aan te moedig om oortollige, gestoorde vet te verbrand vir energie.

Gevolglik is dit normaal om gedurende die eerste paar dae honger tussen maaltye te voel.

Hier is 10 maniere om hongerte te oorkom terwyl jou liggaam gewoond raak aan hierdie nuwe 28 Dae leefstyl.

1. Is jy regtig honger?

Wanneer jy honger voel, drink eers ‘n glas water en wag 10 tot 20 minute voor jy besluit of jy werklik honger is.

Soms dink jy jy’s honger terwyl jy eintlik net dors is, omdat ons liggame baie keer dorste interpreteer as hongerte.

2. Maak seker jou bakkie is reg gemeet en vol

Die grootte van ‘n vroueporsie is 450ml en die van mans is 600 – 750ml. Maak seker dat jou bakkie korrek gemeet is – dit is ml en nie gram nie – en maak seker dat jou bakkie propvol is tydens maaltye.

3. Verhoog vesel

Vesel is jou beste vriend as dit kom by die beheer van hongerte. Dit hou jou voller vir langer en is uitstekend vir die bekamping van hardlywigheid wat moontlik gedurende die detoks fase voorkom.

  • Hou sover moontlik die skil van vrugte/groente aan – dit is waar die meeste vesel voorkom.
  • Eet volgraan brood in plaas van gewone brood.
  • Kies graankos met ‘n hoë veselinhoud soos Weetbix, Jungle Oats en All Bran Flakes in plaas van byvoorbeeld Rice Krispies.

4. Maak slim kos keuses

Dis soms maklik om net die eerste beste groentesoort te gryp wanneer die plan groente noem. Maak slimmer kos keuses om te verhoed dat hongerte later insluip.

  • Blomkool, broccoli of beet maak veel beter opsies vir 1 groente maaltye as byvoorbeeld sampioene of komkommers.
  • Kies Griekse joghurt oor gewone laevet joghurt. Dit bevat dubbel soveel proteïene; en ons benodig proteïne om ons vol te hou.
  • Gebruik die toelaatbare groente en geniet ‘n heerlike tuisgemaakte groentesop waar die plan gemengde groente verlang. Sop bevat baie vloeistof en is ‘n uitstekende manier om jou maag te vul – en om jou heerlik warm te laat voel in die wintermaande.

Eet & Geniet Resepteboek bevat heelwat sop resepte wat op verskeie plekke op die plan geniet kan word.

5. Gelatien

Roer een teelepel gelatien poeier in jou toelaatbare 2 koppies tee of koffie wanneer jy honger voel tussen maaltye. Gelatien help om ‘n gevoel van versadigheid te verhoog, asook om honger hormone te beheer.

As ‘n bonus help dit ook om los velle soepel te hou soos wat jy stelselmatig gewig verloor.

6. Eet stadiger

Soms as jy honger is en baie uitsien na ‘n maaltyd, neem jou instinkte oor en jy verorber jou dis teen die spoed van lig.

Probeer om stadiger te eet om te voorkom dat jy later honger voel. Volgens ‘n 2009 studie wat in die Journal of Clinical Endocrinology & Metabolism gepubliseer was, verkry ‘n mens ‘n groter gevoel van versadigheid – en gevolglik verlaagde intensiteit van hongerpyne – wanneer jy stadiger eet.

7. Drink op

Onthou jou daaglikse toelaatbare vloeistowwe en drink dit wanneer jy honger voel. Die Appel-Kaneel Water, sowel as die Komkommer Water is ook goeie opsies wat vele gesondheidsvoordele inhou.

Groen tee, toelaatbaar maar nie verpligtend, is ook ‘n goeie manier om dehidrasie en hongerte te bekamp.

8. Kaneel

Hierdie geurige spesery is nie net voordelig vir die regulering van bloedsuiker- en insulienvlakke nie, dit is ook ‘n natuurlike aptyt-onderdrukker aangesien dit die vervoer van voedsel na jou maag vertraag.

Drink kaneel tee of voeg kaneel by jou smoothies, groente en selfs oor jou pap.

9. Bly besig

Volgens die kenners duur voedseldrange slegs 3 tot 5 minute lank. Bly besig, trek jou aandag af met ‘n alternatiewe aktiwiteit of stap vir 5 tot 10 minute in die vars lug.

Soms is stres en verveeldheid die eintlike sondebokke wat deur mense verkeerdelik geïnterpreteer word as hongerte.

10. Ondersteuning

Maak seker dat jy ‘n goeie ondersteuningstelsel in jou onmiddellike omgewing het. Vertel jou kollegas, huismaats, familie en vriende van die doelwitte wat jy op Die 28 Dae Eetplan wil bereik; en leer hulle hoe hulle jou kan help om op die bus te bly.

Jy kan ook aansluit by ons Facebook-groep, waar jy met persone wat op dieselfde reis is kan kommunikeer en na uitreik vir motivering en inspirasie.

2 Comments

  1. Is it safe to follow while breastfeeding? My baby is now 14 months old and only feeds during the night.

    1. Eetplan Idees says:

      Hi Leonie, this plan is unfortunately not suited for pregnant or lactacting mothers.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *