|

10 Maniere om Gemotiveer te bly op Die 28 Dae Dieet

Een van die grootste redes waarom mense van die eetplan afwyk is omdat hulle dood eenvoudig net moeg word daarvoor. Almal het tog ‘n beperking op hoeveel dae hulle dieselfde kos oor en oor kan eet.

Ongeag watter eetplan jy volg, bly gewigsverlies een van die moeilikste dinge om te doen. Of jy een kilogram het om te verloor, of tien, is dit normaal om soms die motivering bymekaar te skraap om by jou eetplan te hou of om selfs net te begin. In hierdie artikel kyk ons na maniere om gemotiveer te bly gedurende jou reis op Die 28 Dae Dieet.

Skenk aandag aan hoe jou klere pas en hoeveel beter en gesonder jy voel as voorheen. Moenie mismoedig voel as jou gewig toeneem of dieselfde bly nie. Vertrou jou maatband!

1. Kry Jou Kop Reg

Identifiseer, verstaan en glo in jou “hoekom”. Besluit op ‘n rede, of ‘n paar redes, waarom jy die eetplan volg. Skryf dit neer en plak dit teen jou spieël of maak ‘n notatjie op jou selfoon waarna jy gereeld kan loer. Gebruik ‘n joernaal om jou gevoelens en gedagtes neer te skryf.

Dit is belangrik om te onthou om dit vir JOUSELF te doen en nie vir ander nie. Dalk het jy ‘n gesondheidskwessie, of miskien ‘n lae selfbeeld, of jy wil terugkeer na hoe jy lank lank terug gelyk het. Hoe dit ookal sy; jy gaan sukkel om by die plan te bly as jy dit wil doen om ander tevrede te stel.

2. Moenie Kroek Nie

Elke keer dat jy kroek is jy besig om onbewustelik ‘n saadjie van twyfeling te plant en ‘n baie slegte gewoonte te skep. Sodra jy een keer kroek word dit soveel makliker om dit ‘n volgende keer te doen. En weer en weer en weer…

Wanneer die gedagte om te kroek in jou kop opduik, gebruik jou motivering om jouself van die idee te laat afsien. Ons almal het oomblikke van swakheid, so reik uit na vriende of sosiale media vir ‘n vinnige geselsie om jou terug op die bus te bring.

3. Kikker Jou Spyskaart Op

Een van die grootste redes waarom mense van die eetplan afwyk is omdat hulle dood eenvoudig net moeg word daarvoor. Almal het tog ‘n beperking op hoeveel dae hulle dieselfde kos oor en oor kan eet.

Die 28 Dae Dieet bied so baie vryheid in terme van voorbereiding dat dit regtig nie nodig is om vervelige gestoomde hoender en vaal groente te eet nie! Gebruik verskillende speserye (in matigheid) om die smake te verander, bak jou maaltye in die oond in plaas van om dit te stoom in ‘n pot of maak ‘n smoothie van die bestanddele in plaas daarvan om dit net so te eet. Daar is oulike idees in ons resepteboek en app beskikbaar.

4. Voorbereiding

Die meeste van ons se lewens is deesdae so besig en gejaagd. Die laaste ding wat jy nodig het is om onsuksesvol te wees op die eetplan omdat jy nie genoeg tyd het om jou etes voor te berei nie. Beplan jou maaltye ‘n week vooruit. Skyf dit neer. Berei jou maaltye die aand voor die tyd voor en maak seker dat jy dit die volgende dag inpak werk toe.

5. Ondersteuning

Dit is belangrik dat jy die regte ondersteuning het om jou kanse op sukses op die plan te verhoog. Vertel jou familie of huismaats dat jy op die plan is en hoe dit werk. Verduidelik vir hulle wat jou motivering is en wat jy met die eetplan wil bereik. Sodoende sal hulle ook dan verstaan dat hulle jou moet ondersteun en opbou. Hulle sal dan ook minder geneig wees om jou onnodig uit te lok met wegneem etes of lekernye.

6. ‘n Kort (of geen) Breuk Tussen Rondtes

Dit neem baie lank om ‘n nuwe gewoonte aan te leer, maar baie kort om dit af te leer. Dit word aanbeveel om ‘n kort breuk (of geen breuk) tussen rondtes te neem nie. Vorige ondervinding dui daarop dat mense baie minder geneig is daartoe om terug te keer na die eetplan indien hulle ‘n breuk van 5 dae of langer tussen rondtes neem.

Alhoewel daar geen beperkinge is ten opsigte van wat jy mag eet tydens jou breuk nie, is dit belangrik om matigheid voor oë te hou om te voorkom dat al jou harde werk tot niet gemaak is.

7. Beloon Jouself

Daar is baie maniere om jouself te beloon wat nie kos betref nie. Stel korttermyn doelwitte vir jouself en beloon jouself wanneer jy dit bereik. Dit doen wondere vir die gestel om suksesse en vooruitgang te vier; selfs die kleintjies! Koop vir jouself ‘n nuwe kledingstuk of juwele, gaan sien die nuutste fliek, laat doen jou naels of hare, of bederf jouself met nuwe parfuum.

8. Moet Jou Nie Te Veel Steur Aan Die Skaal Nie

Party mense, veral die wat vir die eerste keer begin oefen saam met die eetplan, ondervind dat hulle gewig optel in plaas van verloor. As jy oefen, is dit omdat jy besig is om spiermassa te bou, en spiere weeg meer as vet. Wat meer saakmaak as die skaal is die sentimeters. Skenk aandag aan hoe jou klere pas en hoeveel beter en gesonder jy voel as voorheen. Moenie mismoedig voel as jou gewig toeneem of dieselfde bly nie. Vertrou jou maatband!

9. Sien Dit As ‘n Leefstyl – Nie ‘n Dieet Nie

Elke dieet het ‘n begin en ‘n einde. En wanneer dit eindig, keer mense gewoonlik weer terug na hul ou gewoontes – wat beteken dat hulle weer die gewig optel. Die 28 Dae Eetplan is meer as net ‘n dieet. Dit is ‘n leefstylplan wat jy jouself moet aanleer en veranderinge moet maak wat blywend is. Dit beteken nie dat jy vir altyd op die plan moet bly nie, maar jy moet wel die algehele lesse voortleef: Kleiner porsies, minder suiker, meer groente en geen ongesonde vette.

10. Geniet Dit

As die eetplan vir jou voel soos straf is jy heel waarskynlik nog nie gereed om dit te takel nie. Herdefinieer jou “hoekom” en probeer weer. Herinner jouself dat jy besig is om lewenslange verandering in jou lewe te implementeer. Onthou dat jy nie oornag oorgewig geword het nie, en dat jy definitief nie oornag die gewig gaan verloor nie.

Maak die eetplan vir jou lekker. Omring jouself met mense wat ook die eetplan volg of wat dit gevolg het. Sluit aan by ‘n oefenprogram wat geskik is vir jou fiksheidsvlak en raak kreatief met die voorbereiding van maaltye. Hierdie is besluite waaroor jy nooit sal spyt wees nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *